Interview with Juanita Swart

Wat beteken die lesers vir jou en jou skryfwerk?
Toe ek begin skryf het, het ek dit vir myself gedoen en vir niemand gewys nie. Veral my gedigte. Later het ek vir mense my skryfwerk gewys en gesien dat daar wel belangstelling is in wat ek skryf. Ek is iemand wat van erkenning hou en my lesers gee dit vir my. Ek hou daarvan as my skryfwerk mense laat dink en aan die praat kry.
Waar het jy groot geword en het dit enige invloed op wat jy skryf?
Ek het in Pretoria grootgeword en is ‘n stadsmens. Dit het beslis ‘n invloed op wat ek skryf. Wanneer ek skryf sien ek geboue, paaie, parkies, skole en mense in my geestesoog wat eie aan ‘n stad soos Pretoria is.
Wat doen jy vir ontspanning?
Ek lees en skryf vir ontspanning en ek droom ook graag. Meeste van my verhale ontstaan in my diepste slaap. My brein is ‘n baie interessante plek.
Hoe het die skrywery jou lewe verander?
Ek is nog nie seker nie. Skryf is vir my terapeuties, ek glo nadat Afgehandel vrygestel is sal ek kan sien of my skrywery mense se lewens raak en of dit my lewe verander.
Hoe verkies jy om jou skryfwerk te doen?
Ek skryf op my skootrekenaar en ek maak tyd om te skryf. Soms skryf ek met oorfone en musiek in my ore , soms gou voor werk by die kantoor. Ek skryf ook my verhale in chronologiese volgorde, as ek aan idees dink vir verder in die storie maak ek ‘n nota daarvan en skryf later daaraan. Ek dink baie as ek skryf. Ek “vervoer” myself in my brein na waar die karakter is. Dan kyk ek om my en ek vra myself af hoe lyk dit daar war die karakter is? Hoe ruik dit daar? Is dit koud of warm? Bedompig? Stowwerig….ek vra ‘n honderd vrae voordat ek eers die sinne neer pen.
Beskryf vir ons jou lessenaar en wat alles daarop lê?
My tafel is skoon. Ek is ‘n baie georganiseerde mens (behalwe in my klerekas). Ek het my skootrekenaar voor my, my kalender en koppie koffie. Dis al. Ek moet voel ek skryf in ‘n geordende plek. Die “besige” gedeelte moet in my kop wees.
Waarmee is jy op die oomblik besig?
Ek is tans besig met Moord Oord. Dit gaan oor ‘n eksklusiewe skoonheidsoord waar die mense een vir een vermoor word. Ek is baie opgewonde oor my nuwe storie.
Waarom die belangstelling in moordverhale?
Van jongs af was ek gefasineer met moordverhale. Dit laat my diep dink oor waartoe elke mens eintlik in staat is. Wat dryf iemand om so iets te doen? Is dit vooraf in jou DNA bepaal dat jy ‘n moordenaar gaan wees? Die pyn van moord en die gewoondraak daaraan, dis goed wat my fasineer. Ek lees baie oor ware moorde en kyk baie na forensiese programme (die ware Jakob, nie CSI en daardie programme nie).
Wanneer kan ons weer 'n digbundel van jou verwag?
Sjoe, na Moord Oord beplan ek nog 2 verhale, een oor “Alien Abductions” in Pretoria (ook fiksie) en dan een oor kinders wat ontvoer word. Kom ons kyk of ek daarna dalk ‘n klompie gedigte kan saamstel vir ‘n bundel. Op hierdie stadium fokus ek op die verhale, dis asof dit net uit my stroom…dalk het ek te lank gewag met al die baie stories in my kop.
Published 2013-10-23.
Smashwords Interviews are created by the profiled author, publisher or reader.