Interview with Madelé Burger

Published 2021-04-23.
Wanneer het jy begin skryf?
My eerste skryfwerk was 'n gebedsjoernaal. Heel aan die begin het ek dit gedoen op rekenaar, maar later het ek 'n A4 boek gekry waarin ek 'n bladsy vol moes skryf as gebed. Dit het my help fokus. Daar, aan die voete van die Here het ek leer skryf. Toe ek later vir 'n Christelike Traumaberadingskursus ingeskryf het, het die dosent my telkens geprys vir my goeie taalgebruik. My eerste werklike skrywery het begin toe ek sowat tien jaar gelede begin blog het. Daarná was daar geen keer nie. Toe ek in Julie 2014 begin het met die Banting leefstyl, het die resepteboeke gevolg. Ek kyk nie een oomblik terug nie. Skryf is so lekker, bevrydend en maak vir my baie deure oop. Ek is baie dankbaar dat dit oor my pad gekom het.
Hoekom het jy dit eerder verkies om 'n Indie Skrywer te word?
Toe my eerste resepteboek reg was om gepubliseer te word, was dit in die tyd wat Banting op almal se lippe en in almal se borde was. Ek wou nie tyd verspeel om eers van die een publiseerder na die volgende te gaan vir goedkeuring nie. Ek wou ook graag my eie stempel op die boeke afdruk en my eie ding doen. Ek wou nie my regte prysgee nie. Dit het beslis vir my gewerk. Vandag is ek nie spyt daaroor nie. Om self te publiseer, het natuurlik sy eie uitdagings, maar ek het soveel geleer daardeur en leer steeds. Ek is beslis nie spyt dat ek dit self doen nie.
Hoe het Smashwords bygedra tot my sukses?
Dit is eintlik ongelooflik! 'Toevallig', toe ek in die proses was om my eerste boek drukgereed te kry, het ek 'n ander e-boek by Smashwords gekoop. Om een of ander rede kon ek nie die boek aflaai voor ek nie die boek, The Secrets to EBook Publishing Success deur Mark Coker, afgelaai het nie. Ek het daardie boek tot op die letter gevolg. Sedertdien het ek al twee resepteboeke uitgegee waarvan een ook in Engels vertaal is. Ek het ook 'n memoir geskryf. E-Boeke is maar net 'n volgende stap in my skryfstorie, 'n lekker nuwe uitdaging. Baie dankie aan Smashwords vir hulle uitstekende raad om boeke te publiseer. Hulle maak die werk soveel makliker.
Wat is die lekkerte van skryf?
O, skryf is wonderlik! Ek wil behoorlik liries raak daaroor! Hoekom het ek dit so laat eers in my lewe ontdek? Dit is soos 'n pasella wat vir my gebêre was vir my oudag.
Wanneer ek skryf, mag ek my gedagtes verwoord, sê wat op my hart is, klaar praat sonder om onderbreek te word. Skryf help my om selfs dieper te dink as wanneer ek sommer net oppervlakkig praat. Skryf is 'n manier van kommunikeer en deur my blog het ek soveel wonderlike mense ontmoet, het ek soveel geleer, ook van ander mense se sienings.
My blog is my kuierplek, my leerplek, my bedieningsplek en dit alles doen ek deur skryf. Die bloguitdagings dwing my om buite die boks te dink en om my verbeelding te gebruik.
Watter betekenis het jou lesers vir jou?
Ek waardeer die mense wat my goed lees, so baie, dit is vir my so 'n groot kompliment dat daar mense is wat my goed lees. Dat hulle kies om my goed te lees om watter rede ookal? My lesers is vir my kosbaar, my vriende. Dit is vir my lekker as ek positiewe terugvoer kry. Ek kan nie dink dat daar iemand is wat skryf en nie hoop dat dit gelees word nie?
Dankie, dankie, dankie dat jy by my lees. Mag dit wat ek skryf vir jou van waarde wees. Mag dit wat ek skryf vir jou opbou, verfris, versterk, nader aan die Here bring. Mag jy plesier put uit my skryfwerk. Baie dankie vir jou ondersteuning, ek waardeer dit so baie.
Aan watter boek werk jy volgende?
Ek is mos maar altyd besig om nuwe resepte te ontwikkel en te toets, en tans is ek besig met die finale afwerking van my derde Banting resepteboek. Ek het ook verlede jaar met NaNoWriMo begin skryf aan my boek: Trauma tot Triomf, wat ek een of ander tyd weer sal moet optel.
Wie is my gunstelingskrywers?
Sjoe, dit is 'n moeilike vraag omdat ek wyd lees en nie noodwendig altyd dieselfde skryfwer nie. Ek lees veral graag Christelike boeke van verskillende skrywers. Afrikaanse skrywers wat my baie ná aan die hart lê, is Chanette Paul en Annelie Botes. Ek ondersteun ook graag selfgepubliseerde skrywers.
Wat inspireer jou om soggens op te staan?
O, daar is so baie wat ek nog wil doen voor ek doodgaan, ek sal beslis 200 jaar oud moet word om alles te doen. Ek is altyd besig met iets, met nuwe projekte. Daar is altyd halwe goed wat moet klaarkom en ek werk soveel keer om spertye te haal. Dit sluit in handwerkartikels vir die VLV, boeke wat moet klaarkom, huiswerkies, noem maar op!
Ek hou daarvan om in die oggend nog 'n bietjie laat te lê en sal graag sommer in die bed sit en werk op my rekenaar, skryf op my blog, boeke afwerk, ens.
Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?
O, genade! Ek kan my nie vergelyk met die groot skrywers wat letterlik heeldag sit en skryf nie. Onthou, my boeke is resepteboeke. Dit beteken ek maak kos! Ek is 'n lewendige mens met baie belangstellings. Ek woel in my huis, borduur, brei, pendel saam met my man tussen ons huis en die boerdery, doen die plaas se administratiewe werk, kuier saam met vriende, gaan stap sommer vir 'n paar uur, hou daarvan om te reis. O nee, ek is heeldag besig! My skrywery is gewoonlik soggens nadat ek wakker geword het en saans in die bed sal ek besig wees met redigeerwerk of boeke lees.
Hoe ontdek jy die e-boeke wat jy lees?
Ja, dit is nogal 'n moeilike een. Ek sal byvoorbeeld op die radio hoor van 'n boek of dit op Facebook of iewers raaklees. En dan, wanneer jy eers 'n e-boek iewers gekoop het, is hulle mos lief om voorstelle te maak van soortgelyke boeke. Ek lees heeltemal te min.
Onthou jy die eerste storie wat jy ooit geskryf het?
Opstelskryf op skool was vir my 'n riller. Daar waar ek grootgeword het op die plaas, het ek te min lewenservaring gehad om oor die onderwerpe te skryf wat hulle voorgestel het. Ek het nooit geweet waaroor om te skryf nie. 'n Feite-opstel was vir my baie makliker. Ek was ook skaam om my verbeelding te gebruik.
Ook nounog skryf ek nie graag fiksie nie. Die enigste 'stories' waaraan ek deel het, is die vervolgverhale wat ons groep vroue, die Goue Vroue, skryf. Ons skryf oor enige ding, gee ons verbeelding vrye teuels en is self die karakters in ons stories. Ons heel eerste storie was 'n bankroof waar ons, toe nog die Towerinne, die Krugermiljoene gaan haal het. Daarná het ons al soveel lawwe stories geskryf.
Watter proses volg jy wanneer jy skryf?
Ek dink dat hierdie 'n vraag is vir die storieskrywers. My skrywery is mos meestal op my blog, wat ek dan sal omskakel in 'n boek.
So, ek kan net skryf as die woorde in my kop kom. Noem hulle dit 'n muse? Ek weet nie! Die gedagte kom skielik in my kop op, sommer die woorde ook en dan moet ek dit so gou as moontlik neerpen terwyl die gedagte nog daar is. Ek kan dit nie na die tyd gaan skryf nie.
Smashwords Interviews are created by the profiled author or publisher.

Books by This Author

Die Putvrou - 'n Borduurstorie
Price: Free! Words: 8,810. Language: Afrikaans. Published: December 16, 2022 . Categories: Fiction » Christian » General
Hierdie verhaal is gebaseer op die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou soos dit opgeteken staan in Johannes 4 in Die Bybel. Madelé Burger pas die verhaal toe op 'n stuk borduurwerk wat sy gedoen het en vertel van haar persoonlike reis tydens die borduur daarvan.
Toortsie se Bantingboerekos - My reis - resepte en stories
Price: $5.00 USD. Words: 20,820. Language: Afrikaans. Published: June 21, 2022 . Categories: Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & Healing / Diabetic & Sugar-Free, Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & healing / low carbohydrate
Toortsie se Bantingboerekos bevat vinnige en maklike resepte wat in gewone huise met gewone bestanddele gemaak kan word. Banting, Keto, Intermittent Fasting, Glutenvry, Diabetes, Metaboliese Sindroom, LCHF
Goue Vroue in Jumanji
Price: Free! Words: 14,260. Language: Afrikaans. Published: September 29, 2021 by Madelé Burger. Categories: Fiction » Adventure » Action, Fiction » Holiday » Humorous
Die Goue Vroue was weer op een van hulle vele wonderlike avonture - hierdie keer in die oerwoud in Afrika. Dit is ’n avontuur gevul met opwinding en gevaar. Adrenalienbelaai. Die dames het soms tuimelend bo-oor mekaar rondgeval, ander kere gillend vasgeklou vir lewe en dood! Op die ou end, soos nog altyd vantevore, het hulle die Jumanji-uitdaging met vlieënde vaandels geslaag.
Skoolstories 1969 - 1980 Bredasdorp
Price: Free! Words: 13,000. Language: Afrikaans. Published: June 17, 2021 . Categories: Nonfiction » Biography » Personal memoir, Nonfiction » Comics (nonfictional)
Hierdie boek is geskryf deur die groep klasmaats wat in 1969 skool toe is en in 1980 matriek geskryf het. Bredasdorpstories. In hierdie bundel is die onthoustories van ’n paar van die klasmaats opgeneem. Op ’n humoristiese manier vertel hulle dinge wat hulle ervaar het.
Toortsie's Banting Bash! - For Keto, Banting, LCHF
Price: $3.00 USD. Words: 22,400. Language: English (South African dialect). Published: April 24, 2021 . Categories: Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & healing / low carbohydrate, Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & Healing / Weight Control
Toortsie’s Banting Bash is more than just a recipe book. It is full of quick, easy and tasty recipes you can make in an ordinary kitchen using ordinary ingrdients. All of the recipes are suitable to the Banting lifestyle. Toortsie also tells her story, her journey since starting the Banting eating plan in July 2014. It’s not just a recipe book, it’s also a good read! For: LCHF, Keto, Banting
Goue Vroue in Wonderland
Price: Free! Words: 9,510. Language: Afrikaans. Published: September 25, 2020 by Madelé Burger. Categories: Fiction » Fairy tales, Fiction » Fantasy » General
’n Groepie Towerinne beland in ’n storieboekavontuur. Tydens die ontrafeling van die verhaal ontdek hulle elkeen hulle Goue Eienskap wat van hulle die Goue Vroue maak.
Toortsie Se Soetighede - vir LCHF, Banting, Keto, Paleo
Price: Free! Words: 3,990. Language: Afrikaans. Published: September 17, 2020 . Categories: Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & healing / low carbohydrate, Nonfiction » Cooking, Food, Wine, Spirits » Health & Healing / Diabetic & Sugar-Free
Toortsie se Soetighede geskik vir LCHF, Banting, Keto, Paleo en vir mense wat daarvan hou om lekker te eet sonder om hulle te bekommer oor suiker.