Wanneer het jy begin skryf?
My eerste skryfwerk was 'n gebedsjoernaal. Heel aan die begin het ek dit gedoen op rekenaar, maar later het ek 'n A4 boek gekry waarin ek 'n bladsy vol moes skryf as gebed. Dit het my help fokus. Daar, aan die voete van die Here het ek leer skryf. Toe ek later vir 'n Christelike Traumaberadingskursus ingeskryf het, het die dosent my telkens geprys vir my goeie taalgebruik. My eerste werklike skrywery het begin toe ek sowat tien jaar gelede begin blog het. Daarná was daar geen keer nie. Toe ek in Julie 2014 begin het met die Banting leefstyl, het die resepteboeke gevolg. Ek kyk nie een oomblik terug nie. Skryf is so lekker, bevrydend en maak vir my baie deure oop. Ek is baie dankbaar dat dit oor my pad gekom het.
Hoekom het jy dit eerder verkies om 'n Indie Skrywer te word?
Toe my eerste resepteboek reg was om gepubliseer te word, was dit in die tyd wat Banting op almal se lippe en in almal se borde was. Ek wou nie tyd verspeel om eers van die een publiseerder na die volgende te gaan vir goedkeuring nie. Ek wou ook graag my eie stempel op die boeke afdruk en my eie ding doen. Ek wou nie my regte prysgee nie. Dit het beslis vir my gewerk. Vandag is ek nie spyt daaroor nie. Om self te publiseer, het natuurlik sy eie uitdagings, maar ek het soveel geleer daardeur en leer steeds. Ek is beslis nie spyt dat ek dit self doen nie.
Read more of this interview.